Die aantal boere in Suid-Afrika kan tot 15 000 daal, tensy die Regering sy beleide heroorweeg en die strategiese belangrikheid van die sektor in ag neem, sê Absa Agribesigheid.
Luidens ’n berig in Business Day het die bank vroeër die week gewaarsku dat dié afname binne die volgende 15 tot 20 jaar kan plaasvind.
Mnr. Ernst Janovsky, hoofbestuurder, sê ’n weldeurdagte en ondersteunende landboubeleid is nodig vir boere om voordeel te trek uit die wêreldwye toename in die vraag na kommoditeite. Dít kan tot meer beleggings in die sektor lei.
“Sonder ’n gesonde landbousektor kan geen land genoeg voedsel vir sy inwoners produseer nie.”
Struikelblokke
Janovsky sê dit is vreemd dat die staat die sektor aangewys het as een van dié waarbinne werkskepping volhoubaar kan plaasvind, maar terselfdertyd stel die staat grondplafonne op grondbesit voor.
Hy sê dit is van kardinale belang dat struikelblokke wat die optimale werking van die bedryf bedreig, uit die weg geruim word.
“Die Regering moet eerder verskillende aansporingsbonusse oorweeg en verskeie wortels aanbied om die landbousektor aan te moedig om in landbou-ondernemings te belê en meer mense aan te stel, as om met ’n stok te dreig,” aldus Janovsky.
Hulp gevra
Intussen sê mnr. Mthobeli Mxotwa, woordvoerder vir mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, die Regering wil nie die aantal kommersiële boere in die land laat afneem deur hul vlakke van produktiwiteit in te perk nie.
“Die minister het boere al uitgenooi om voorleggings te doen oor aanvaarbare groottes vir plase waarop verskillende kommoditeite verbou moet word sodat beleidmakers ingelig kan word,” sê Mxotwa.
Bron: Business Day
28 Oktober 2011