
Ekonoom Mike Schüssler sê Suid-Afrika beleef ’n moeilike tydvak in sy ekonomie en die Regering het die landbou nodiger as die teendeel. “Boere kan groot veranderings help bewerkstellig. Die landbou is die enigste groot bedryf wat op die platteland derduisende mense in diens kan neem.”
Schüssler het op die jaarkongres van Agri-Noord-Kaap in Kimberley gesê die ander moontlikheid vir werkverskaffing op die platteland is toerisme, maar in teenstelling met die landboubedryf, word toerisme nie oral bedryf nie.
Volgens hom gaan die landbou gebuk onder hoë arbeidskoste omdat die Regering aan druk moes toegee, maar die bedryf kan die grondslag van groei vorm as dit die nodige erkenning en sekerheid verkry.
“Ek dink die landbou moet dit duidelik aan die Regering stel dat hy werkgeleenthede teen die regte prys beskikbaar kan bied. Die probleem is dat die werkloosheidskoers hoër is as die huidige verklaarde vlak van 25% van die bevolking. Dit is nader aan die vlak van 38%. Baie werklose mense het al moed opgegee en het hulle indiensnemingspogings gestaak. Die meeste van dié groep woon in landelike gebiede en die enigste bedryf wat tot hul redding kan kom, is die landbou,” sê Schüssler.
Ten spyte van die Regering se pogings om die ekonomie aan die gang te hou, word sy doeltreffendheid van die staatsdiens en dienslewering ingeboet. “Lesse wat uit die res van die wêreld geput kan word om ekonomiese groei te bewerkstellig, hou verband met ’n groter oriëntering ten opsigte van die vrye mark. Dit beteken ook groter grondsekerheid en sekerheid vir die sakebedryf.”