
Lede van die Tolwe Boerevereniging in Limpopo het verlede week alles waarmee hulle besig was laat vaar om te help soek na twee leeus wat hul intrek in die area gemaak en onder beeste en donkies begin maai het.
Die eerste tekens van die leeus se teenwoordigheid in die Bosveld is op ’n plaas in die Marken-omgewing gevind, byna twee weke gelede. Die plaaslike departement van omgewingsake is in kennis gestel en natuurbewaringsamptenare het hul spore van Marken na Baltimore en vandaar na Tolwe en toe tot by die Glen Alpine omgewing in die ou Lebowa tuisland gevolg.
Dit his hier waar die leeus ’n eetlus vir die plaaslike bevolking se donkies en beeste ontwikkel het. Mnr. Henk van der Walt, voorsitter van die Tolwe Boerevereniging sê van die komunale boere het hom genader en gevra om te help met die leeus aangesien dit lyk of die omgewingsake personeel nie hond haaraf maak met die groot katte nie.
Een van die boere het sy private helikopter beskikbaar gestel en tussen die boerevereniging, die polisie en die departement van omgewingsake is die soektog na die leeus gekoördineer.
Omgewingsake het besluit dat die leeus geskiet moet word. Teen Dinsdagmiddag was die boere op die spoor seker hulle is baie naby aan die leeus en kon hulle ’n goeie aanduiding aan die helikopter gee van waar die diere is. Kort daarna is ’n mannetjie uit die helikopter geskiet. Die wyfie wat saam met hom was het op die vlug geslaan en was teen Woensdagmiddag nog steeds soek.
Die bestuurder van die provinsiale omgewingsake departementskantoor, mnr. Sam Makobene, wou nie kommentaar lewer op die departement se keuse om die leeus van kant te maak nie. Boere was dit egter eens dat leeus wat eers beeste en donkies begin vang nie gerehabiliteer kan word nie. Daar word vermoed dat die leeus uit Botswana kom.