
Sedert Maandagoggend (13 Augustus 2012) word die Rooivleisprodusente-organisasie in die Vrystaat (RPOVS) oorval met oproepe en skenkings van voer, weiding en kontant. Dít volg op brande wat oor die langnaweek groot verwoesting in sekere dele van die provinsie veroorsaak het.
Die organisasie kon nog nie ’n opname van al die skenkings doen nie, “want ons kry nie tyd tussen al die oproepe en skenkings deur nie,” sê me. Karien Annendale, kantoorbestuurder. Sy sê dit is verstommend om te sien hoe die boere mekaar bystaan.
Sy moedig enigiemand wat steeds wil help aan om hulle by vrystaatrpo@vodamail.co.za of 051 451 2314 te kontak.
Bang
Intussen sê mnr. Neels de Villies, voorsitter, boere regoor die provinsie hou asem op ná brandwaarskuwings vir Woensdag (15 Augustus 2012) uitgereik is. Hy sê ’n wind van sowat 50 kilometer per uur waai oor groot dele van die provinsie, en die waarskuwing is veral aan boere in die sentrale en westelike dele gerig.
In die naweek se brande het “baie wild” en “heelwat vee” doodgebrand, vertel De Villiers. Hy sê in die omgewing van Dewetsdorp en Wepener het sowat 50 000 ha sedert verlede week afgebrand.
Naby Memel het tussen 60 000 en 70 000 ha in die slag gebly. ’n Verdere 6 000 ha het in die omgewings van Kroonstad, Viljoenkroon en Vredefort in vlamme opgegaan.