
"Tragies." "Frustrerend." "Skandelik." "Onaanvaarbaar." Dit was van die woorde waarmee die veebedryf 'n verklaring van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) oor tekorte begroet het.
OBP, wat deur die staat staat besit word, is die enigste vervaardiger van sekere entstowwe in Suid-Afrika, maar het die media, veeartse en veebedryfsorganisasies verlede week per brief laat weet dat hy nie entstof het vir perdesiekte, bloutong,driedae-stywesiekte, brucellose en slenkdalkoors nie.
Dr. Steven Cornelius, OBP se hoof uitvoerende beampte, verduidelik in ’n brief dat die vervaardiging van hierdie entstowwe onderbreek moes word vir 'n opgraderingsprojek wat in 2012/’13 van stapel gestuur is. Hierdie entstowwe sal weer teen Oktober beskikbaar wees.
Boere is egter bekommerd. In die noordelike dele van die land staan hulle aan die vooraand van die reënseisoen en hierdie siektes kan juis enige tyd uitbreek.
"Dit is tragies, en ons kan niks daaraan doen nie," sê mnr. Gerhard Schutte, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie wees. "Ons moet eenvoudig wag."
Hy sê hoewel baie boere by die onlangse RPO-kongres in Bloemfontein hulle misnoeë met die situasie uitgespreek het, was daar darem nog nie aanduidings van uitbrake nie.
Mnr. Leon de Beer van die NWKV sê sy lede is net so ongelukkig, veral omdat hulle meen OBP kon vroeër laat weet het dat hy nie genoeg van hierdie entstowwe het nie. "As betyds met ons gekommunikeer is, kon ons alternatiewe gaan soek en dalk genoegsame entstowwe ingevoer het, maar nou is dit te laat. Die reënseisoen is op ons."
Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die Dieregesondheidsforum, sê boere moet moed hou. Ná 'n onlangse besoek aan Onderstepoort en 'n toer van die nuwe geriewe is hy vol moed dat die entstowwe, soos belowe, teen Oktober beskikbaar sal wees en dat die sporadiese entstoftekorte waaraan OBP die afgelope jare gekenmerk is, iets van die verlede sal wees.
Dr. Danie Odendaal, hoofbestuurder van Veearts Netwerk, wat ’n elektroniese herrineringstelsel vir entings vir veeartse en hulle veekliënte bedryf, is nie so optimisties nie. Hy sê dié tekorte is onverskoonbaar. OBP moes beplan het vir die opgradering en genoegsame entstof vooruit vervaardig het, sê hy.
Odendaal sê private instansies is reeds hard aan die werk om entstowwe te ontwikkel vir siektes wat tradisioneel net deur OBP verskaf is.