Boere moet verseker dat die beste leiers na vore kom en ook anderkant die plaashek betrokke raak, het mnr. Orton King, uitvoerende direkteur van die Agri Mega-groep, op ’n boeredag op Garies gesê.
“Suid-Afrika het wêreldklasboere en wêreldklas-leiers. Dis julle plig om toe te sien dat hulle na vore kom. Daar is baie topleiers wat nie in die georganiseerde landbou figureer nie. Laat die ware leiers in jul gebied betrokke raak, want plaaslike leiers bepaal uiteindelik wat op nasionale vlak gebeur.”
King, ’n genooide spreker op die boeredag van die boereverenigings Garies en Kamiesberg, meen die georganiseerde landbou het te veel burokratiese en tegnokratiese leiers en te min visioenêre leiers.
'n Nuwe manier van doen
“Ons moet uitkom uit die tradisionele manier van doen en ons anders posisioneer in die wêreld.” Hy het boere aangemoedig om leiers te kies wat nie net in die pad kan afsien nie, maar ook kan verwag wat om die draai gebeur.
“Die landbou het leiers nodig wat bereid sal wees om selfs besluite te neem wat tot hul nadeel is, maar tot voordeel van hul nageslag.”
Verder is dit belangrik dat boere hulself ook buite die plaashek laat geld deur die geleenthede wat verder af in die waardeketting bestaan, te benut, ingelig te wees oor wat in die res van die wêreld aangaan en aan te pas by die Regering se kultuur van onderhandeling en kompromieë.
19 Oktober 2011