
Boere van Limpopo het Dinsdag, 11 November, warm onder die boortjie geraak toe hulle tydens Agri Limpopo se arbeidswerkswinkel in Polokwane hoor dat hulle vakante poste in 'n nasionale koerant moet adverteer. Daarna moet hulle bewys dat hulle nie plaaslike aansoeke gekry het nie alvorens hulle toegelaat sal word om buitelandse werkers in diens te neem.
Me. Joyce Mathume, adjunkdirekteur van die provinsiale depargement van arbeid se openbare dienseenheid het aan boere verduidelik dat die departement se eerste prioriteit plaaslike werksoekers is. "Eers as ons seker is 'n plaaslike werklose word nie deur 'n buitelander van 'n werksgeleentheid ontneem nie, kan ons boere toelaat om buitelanders aan te stel," het sy gesê.
Boere het die proses as 'n onnodige mors van tyd en geld afgemaak. Een boer het daarop gewys dat dit R45 000 kos om 'n enkele pos vir 'n maand lank in 'n nasionale dagblad te adverteer soos die wet vereis. "Die bietjie reaksie wat ons wel kry, loop op niks uit nie. Die oomblik wat mense hoor dit is plaaswerk lui hulle sommer af.”
Mnr. Peter Nicholson, 'n sitrusboer van Tshipise, sê dit is presies wat gebeur. "Dit is hierdie tipe van politieke inmenging in produktiwiteit wat maak dat ons land se ekonomie teen 1,4% in plaas van 6% groei."
Mathume het belowe om boere se frustrasies met die nasionale kantoor te deel. Sy het egter bygevoeg dat die departement eers navorsing gaan moet doen om vas te stel of boere nie plaaslike arbeid kan kry nie en hoekom nie.
Agri Limpopo se hoof uitvoerende beampte, mnr. Willem van Jaarsveld, meen dit is onnodig. "Ons het reeds baie navorsing hieroor gedoen en deel dit graag met die departement," het hy gesê. Mathume het egter voet by stuk gehou dat die departement sy eie navorsing wil doen.