
Boere moet ewigdurende studente wees as hulle op die voorpunt wil bly, meen mnr. Pierre Vercueil, wat ’n korporatiewe boerdery-onderneming in Suid-Afrika en Zambië staangemaak het.
“Die boerdery is niks anders as ’n besigheid nie, maar dis ’n bietjie anders as ander besighede, bloot omdat jy die biologie en die sakebeginsels in die wêreld met mekaar moet trou. Daar is lang beleggings- en produksiesiklusse, politieke betrokkenheid en ’n klomp emosie… dit vra dat ’n mens jouself moet bemagtig met ’n wyer kennis as net die eng tegniese aspekte van boerdery,” het Vercueil tydens die Stellenbosse Woordfees gesê. Hy het aan die Megaboere-gesprekreeks deelgeneem. Sy strewe is dat sy boerdery in die boonste 20% van die onderskeie bedrywe presteer.
“Dan volg die implementering daarvan om die volhoubaarheid te kry, om die natuurlike hulpbron te bewaar en om die business case reg te doen, word dit eintlik nie so moeilik nie.”
Japanese inspirasie
Vercueil is ’n groot aanhanger van Kaizen, oftewel die “Japanese manier van dinge doen”. Hy verwys daarna as inkrementele verbetering.
“Jy moet elke jaar beter wees as die vorige jaar. Die landbou is ‘n dinamiese omgewing. Toe ek begin boer het in 1972 was die gemiddelde produksie van varkboere in die land iets soos 13 varkies grootgemaak per sog per jaar. Vandag trek die goeie ouens op 30. Die tegnologie-toepassing, genetika, bestuurstegnieke, behuisingsaspekte en als wat daarby betrokke is, het verander in hierdie tyd. Vandag produseer ons iets soos 2,5 ton varkvleis per jaar uit ’n enkelsog (wat 160 kg weeg).”
Om by so ’n vinnig veranderende wêreld te kan aanpas, moet ’n boer nooit ophou om ’n student te wees nie, beklemtoon hy.
As jy risiko's wil verskans
“As jy die risiko’s wil verskans wat in die landbou is en jy raak in meer as een bedryf betrokke, dan raak die tegniese aspekte sowel as die sake-aspekte en als wat daarmee saamgaan, soos mense bestuur, net meer kompleks. Om die risiko’s van landbou te verskuif en om dit vir jou moontlik te maak om ’n groeistrategie te hê, moet jy lees en hard werk. As jou hart boonop warm klop vir die bedryf, is dit mos nie moeite nie.”
Vercueil boer onder meer met varke, speenkalwers en saaigewasse in Suid-Afrika. Hy het ook voerkrale, ’n komposaanleg en ’n wildboerdery. In Zambië boer hy met sojabone, graangewasse en avokado’s. Die reuse-boerdery het op sy familieplaas Damascus ontstaan.
Soek die kanse om te verbeter
Hy glo daar is baie inkrementele verbeteringsgeleenthede nog selfs voor ’n landbouproduk die plaashek verlaat. In 1988, toe hy met beeste begin boer het, het hulle sowat 130 000 liter reënwater nodig gehad om ’n kilogram vleis te produseer. Vandag is die syfer 80 000 liter. ’n Goeie saaiboer wat die nodige tegniese regstellings doen, sal ’n ton mielies produseer vir elke 80 mm reën wat val.
“Ons kan die besigheid só skep sodat ons konstant verbeter. Vir daardie verbetering het jy die tegniese vaardigheid, die akademie en die navorsing nodig. Dis absoluut belangrik dat boere ewigdurende studente bly, want hoe gaan jy anders bybly? Ek dink dit is die geheim van vorentoe gaan. Ons weet nie hoe vinnig mense in die toekoms gaan hardloop nie, ons weet ook nie presies hoeveel ons sal kan produseer van grond af nie. Al wat ons weet is dat die wêreldbevolking groei, grond word minder, reënval meer wisselvallig, dit word warmer en ons is die gelukkige ouens wie se kantoor daarbuite in die son is.”
Prof. Jan Bonsma, wêreldbekende genetikus en vader van die Bonsmara, was een van Vercueil se mentors.
“Hy’t vir my gesê ’n mens moenie net na goed kyk nie, maar jy moet síén waarna jy kyk. Baie keer kyk ons na goed en registreer nie na wat ons kyk nie. Hy het oplettendheid en nuuskierigheid by baie van sy studente wakker gemaak.”