
‘‘Berigte soos die een wat vanoggend in die koerant is, foeter ons beeld op.’’
Jansen van Vuuren het op Agri Noordwes se kongres by die Mmabatho Palms Hotel in Mafikeng gereageer op ’n koerantberig wat vanoggend in die dagblad, Beeld, verskyn het.
Luidens die berig verskyn mnr. Mathys Cloete (69) en sy seun Danie (34) vandag in die landdroshof op Vryburg op aanklag van moord nadat hulle glo ’n plaaswerker met motorkabels doodgeskok het. ’n Ander werker is blykbaar erg aangerand en word tans in die Mahikeng-hospitaal behandel.
Die slagoffers se name is nie bekend nie.
Mnr.Carel van Heerden, die Cloetes se prokureur, het gesê die mans sal die bewerings teen hulle ontken, maar wou nie meer sê voordat getuienis in die hof aangebied is nie.
Die Cloete-plaas is in die Tosca-omgewing, noord van Vryburg, naby die Botswana-grens.
Prof. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Universiteit van Johannesburg, sê een boer wat ‘‘dit verloor’’ beskadig die beeld van die boer en dan word die harde beeldbouwerk van die afgelope ses jaar ongedaan gemaak. Croucamp was een van die sprekers op Agri Noordwes se kongres.