Die wanindruk dat boere ’n bedreiging inhou, moet ’n nekslag toegedien word, sê mnr. Lourie Bosman, DA-LP.
“Boere is bates,” sê hy en voeg by dat die internasionale bevolkingsontploffing groot landbougeleenthede bied. “ ’n Miljard mense is tans ondervoed.”
Terwyl Brasilië se landbouproduksie teen 2019 na verwagting met 40% sal groei, sal Rusland, die Oekraïne, China en Indië se produksie waarskynlik met 20% daal. “Het Suid-Afrika se Regering die vermoë om sy burgers by te staan dat hulle ook voordeel kan trek uit dié geleenthede?”
Bosman sê die Regering sal moet verseker dat Suid-Afrikaanse produsente op ’n gelyke speelvlak kan meeding. “Prysskommelinge bemoeilik landbouproduksie en dit bedreig die volhoubaarheid van die landbou. Niemand kan aanhou boer as dit nie winsgewend is nie.”
Terwyl Suid-Afrikaanse boere grootliks aan die genade van ’n vrye mark onderhewig is, subsidieer talle ontwikkelde lande hul boere om pryse te verlaag en landelike gebiede te onderhou.
Bosman is bekommerd oor die tegnologiese vooruitgang van Suid-Afrika se mededingers, terwyl die Landbounavorsingsraad (LNR) feitlik nie meer navorsing kan finansier nie. “Die LNR se begroting is hopeloos te min. Slegs 4% word aan navorsingsprojekte bestee. Die res word aan salarisse bestee. Dít terwyl Onderstepoort geen finansiële steun van die staat ontvang nie.”
Verder is dit ook kommerwekkend dat Suid-Afrika nie werklik ’n rampbestuurplan het nie en dat ondersteuning boere gewoonlik te laat bereik.
1 September 2010