
Drie verdagtes het op Donderdag 13 September 2012 in die landdroshof op Trompsburg verskyn in verband met die moord van mnr. Johan Fourie, en sy vrou, Cecile. Tydens die verskyning het dit glo aan die lig gekom dat die drie mans glo op die bejaarde egpaar se plaas gewerk het.
Luidens ’n berig in Volksblad is die saak tot 20 September 2012 uitgestel. Die 71-jarige boer en sy 72-jarige vrou is op Sondag 9 September 2012 na bewering wreed in hul huis vermoor nadat hulle van ’n kuier by hul kinders op die dorp teruggekeer het. Volgens die koerant word vermoed dat die egpaar met ’n byl vermoor is.
Boere in hof
Die hofsaal was tydens die verskyning stampvol, want boere het besluit om in groot getalle by die hof op te daag. Een van hulle het gesê: “Dit is die tweede dubbele moord in ons distrik. So iets ruk die hele gemeenskap. Ons wil sien wie so wreed kan wees.”
Die verdagtes, van wie een van Trompsburg en twee van Bloemfontein is, is almal diep in die twintig. Hulle staan tereg op klagte van moord en huisbraak.