Boere het Vrydag (9 Desember 2011) in ’n amptelike voorlegging op die COP17-klimaatberaad gepleit vir groter inspraak oor maniere om klimaatsverandering teen te werk.
Dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van die Suider-Afrikaanse Konfederasie van Landbou-verenigings (Sacau) en van Agri SA het gevra vir ’n afsonderlike werkprogram oor landbou.
Hy het gepleit dat die landbou deel gemaak moet word van die komitee wat verantwoordelik is vir wetenskaplike en tegniese advies (SBSTA) by die Verenigde Nasies se raamwerk-konvensie oor klimaatsverandering (UNFCCC).
Voordele
“Die landbou is die enigste bedryf wat die aarde voordele, soos aanpassing, vermindering van skadelike gasse en voedselsekuriteit, tesame kan bied. Met só ’n werkprogram kan boere, wetenskaplikes, beleidmakers en die burgerlike samelewing ’n meganisme kry om landboustelsels, hulpmiddels en konsepte, wat kan help om besoedeling te verminder en aanpassings te bewerkstellig, te beoordeel en te verstaan.”
Hy sê ’n werkprogram kan lande en hul landbousektore die geleentheid bied om ’n ontwikkelingspad te bepaal en ook te bepaal watter hulpbronne benodig word om dit reg te kry.
“As hulle behoorlik bygestaan word, kan die wêreld se boere aardverwarming beveg, terwyl hulle terselfdertyd voedsel- en watersekerheid verbeter. Daardeur kan miljoene mense se welstand in landelike gebiede, waar boere die spilpunt is waarom die ekonomie draai, verbeter word. Boere is gereed om hierdie uitdagings aan te pak en die enorme potensiaal van die landbou verder te ontgin.
9 Desember 2011