
Boere, polisie en selfs plaaswerkers in die Bulgerivier-omgewing tussen Lephalale en Vaalwater het Sondagoggend soos een man saamgestaan toe mnr. Dries en mev. Ronél Cronjé op hul plaas, Slangfontein aangeval en beroof is.
Dit het gesorg dat drie verdagtes binne enkele ure na die voorval in hegtenis geneem is en nog vier teen Maandagmiddag.
Een van hierdie verdagtes is onlangs vrygelaat op borgtog nadat hy in die landdroshof op Mokopane op 'n aanklag van onwettige renosterjag verskyn het. 'n Ander verdagte is 'n voormalige plaaswerker van Cronjé.
Dit was 'n ander plaaswerker wat eerste op die Cronjés afgekom het waar hulle Sondagoggend in 'n kamer vasgebind gelê het. Hy het hulle losgemaak en die polisie ontbied wat op hulle beurt die omgewing se plaaswag in kennis gestel het en Die Spoorsnyers asook STTU ontbied het. Dit is twee groepe polisiereserviste wat as reaksie-eenhede op plaasaanvalle spesialiseer.
"Die samewerking was ongelooflik," sê mnr. Vossie Vosloo van Die Spoorsnyers. Hy sê boere van die plaaswag het die toneel bewaak totdat die polisie opgedaag het, en daar is nie 'n voet verkeerd gesit nie. "Ons kon dadelik sien waar die mense toegang tot die plaas gekry het en in watter rigting hulle gevlug het. Boere het die paaie afgesper en twee private helikopters was heeltyd tot ons beskikking."
'n Skootrekenaar, twee handwapens, juwele en van die kontant wat by die Cronjé-egpaar gesteel is, is by die drie gekry. 'n Z88-polisiepistool is by een van die verdagtes gekry.
Al sewe verdagtes sal Donderdag, 20 November, op aanklagte van gewapende roof, huisbraak en aanranding in die Lephalale -anddroshof verskyn. "Ek dink hierdie sewe is 'n groot hap uit 'n baie aktiewe misdaadsindikaat in die omgewing," het Vosloo opgemerk.
Hy vermoed dat dié groep veral by renosterstropery betrokke was. Die rowers het glo stelselmatig deur die gewere in mnr. Cronjé se kluis gegaan, maar almal is net daar op die grond laat lê. Vosloo vermoed hulle was op soek na iets groters, iets waarmee mens renosters kan jag.