Boere langs die Lesotho-grens is raadop met heinings wat afgebreek word en die polisie wat sake tans glo vererger.
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Vrystaat Landbou se landelike veligheidskomitee, sê die organisasie het op 17 Februarie 2012 hofstukke oor minagting van die hof ingedien. “Die staat het 15 dae om daarop te antwoord. Ons verwag dus vandeesweek ’n antwoord.”
Dié stap volg omdat die provinsiale regering glo nie die bepalings oor sy verantwoordelikhede rakende die grens, wat deur ’n hof bekragtig is, nakom nie. Die staat is onder meer verantwoordelik vir die oprigting en instandhouding van ’n grensheining asook die doeltreffende patrollering van die grens.
Sommige boere sukkel nou glo sedert 2010 om betaling van die staat te kry vir die heinings wat hulle op hul plase moes oprig. Verskeie van die heinings is glo sedertdien afgebreek. Die staat gee glo ook nie daaraan aandag nie.
ID-dokumente
Breytenbach sê ’n groot probleem waaroor tans klagte ontvang word, is die inhegtenisneming van plaaswerkers. Sommige boere het al gekla dat die Polisie onlangs begin het om werkers, wat die afgebreekte heining herstel, in hegtenis te neem omdat hulle nie identiteitsdokumente in hul besit het nie.
“Dié bewerings word ondersoek, maar dit blyk of die polisie nou darem sy optrede langs die grens verskerp het. Die veediefstal het egter nie afgeneem nie en oorgrens-weidingsdiefstal neem nog toe,” vertel Breytenbach.
Moedeloos
Intussen vertel mnr. Stef Buys, ’n boer van die distrik Wepener, hulle is so moedeloos met die situasie in hul omgewing dat hy ten duurste ’n private sekuriteitsmaatskappy betaal om sy plaas te beveilig. “Dit kos my ’n bykomende R25 000 per maand.”
Buys sê sy plaas lê vir 8 km langs die grens en hy het reeds ’n heining langs dié deel opgerig. Hy het saam met ’n gewone heining ook lemmetjiesdraad opgerig met die hoop dat dit onwettige betreding sou voorkom. Die helfte van dié heining is egter reeds afgebreek.
“Die heining het sowat R30 000 per kilometer gekos en die lemmetjiesdraad ’n verdere R30 000 per kilometer. Ek het dus sowat R60 000 per kilometer betaal en die staat het nog niks aan my terugbetaal nie,” vertel Buys. “Ek het nou besluit om self ook ’n siviele saak teen die staat in te stel.”
Buys sê sedert die sekuriteitsmaatskappy sy plaas patrolleer is die heining vir nog sowat 500 m afgebreek. Die betreders het ook al met skerppunt-ammunisie op die sekuriteitswagte losgebrand.
Vee word ook gereeld in die omgewing gesteel en soms sien hy en sy bure vreemde voertuie op plaaspaaie. Dié voertuie is vermoedelik gesteel en die gate in die heinings word vermoedelik gebruik om na Lesotho te vlug.
6 Februarie 2012