Was dit nie vir die motorongelukke en honderdduisende rande se skade nie, sou mense seker daaroor kon lag, sê boere oor die pad tussen Wesselsbron en Makwassie.
Die pad wat dié dorpe verbind en veronderstel is om een van die hoofroetes tussen die twee provinsies te wees, is só gedaan gery dat motoriste al maande lank eerder langs die pad ry. Sommige motoriste soek nou selfs ander roetes tussen plase deur.
Eerder grondpaaie...
“As mense begin grondpaaie soek om ’n teerpad te vermy, moet jy weet hoe swak daardie pad is,” sê mnr. Gideon Koegelenberg, voorsitter van Makwassie se boerevereniging.
“Wat sake nou nóg erger gaan maak, is as die reën kom. Nou kan ’n mens nog óm die gate probeer ry, maar as hulle vol water is, is jy verlore.” Die boere sê van die stuk pad van sowat 35 km tussen Makwassie en die Vaalrivier is daar eintlik net sowat 4 km wat rybaar is.
Mnr. Frikkie Kirsten, ’n graanboer wat langs die pad boer, sê hy het gedurende oestyd meer as R70 000 opgedok om beskadigde voertuigbande te vervang. “Ons het op eie koste al vier keer self die slaggate met grond opgevul, maar dit hou nie lank nie.”
Vragmotor-as daarmee heen
Hy sê van die slaggate is só erg, dat die vooras van een van mnr. Boeta Grobler se vragmotors afgebreek en die vragmotor in sy landery beland het. Ds. Hans Barnard, NG leraar op Makwassie, het ook deurgeloop.
“Ek het een aand in Februarie deur ’n slaggat gery wat R70 000 se skade aan my voertuig aangerig het. Nou vermy ek die pad heeltemal en ry eerder ’n 104 km draai deur Bothaville as ek Bloemfontein toe gaan.” Mnr. William Dunhin, die man wat by die boerevereniging met paaie belas is, sê hy praat bykans weekliks met mense by die paaiedepartement.
“Die padinspekteur, mnr. Frans van der Merwe, probeer sy bes, maar sy hande is ook afgekap. Die padskrapers waarmee hulle die grondpaaie probeer red, dateer uit 1964 en baie keer is hulle stukkend of daar is nie diesel beskikbaar nie.”
Volgens Van der Merwe sal die pad sowel as die pad tussen Wolmaransstad en Schweizer-Reneke in die volgende boekjaar herbou sal word.
18 November 2011