Boere moet as deel van hulle ontwikkelings- en volhoubaarheidplanne ook werkers se gesondheid in ag neem, vra AgriAids, ’n nie-regeringsorganisasie.
Me. Gretha Kostwinder, direkteur, sê boere moet nooit werkers se gesondheid uit die oog verloor nie, “want ’n gesonde werkerskrops hou voordele vir ’n boerdery in.”
Sy was een van die sprekers tydens die 2011 AllFresh-konferensie wat by Sun City plaasgevind het.
Volgens Kostwinder het AgriAids reeds sowat 10 000 plaaswerkers in Noordwes, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Limpopo bereik, en ’n derde van dié werkers het positief getoets vir MIV/vigs.
Sy sê 15% tot 35% van die persone by wie MIV/vigs gediagnoseer word, is tussen die ouderdomme van 15 en 40. Dié statistiek is tussen 15% en 70% vir plaaswerkers.
Waardeer boere
Kostwinder sê sedert sy met die organisasie begin het, het sy nog nie een boer ontmoet wat nié by die projek betrokke wou raak en besorg was oor sy werkers se gesondheid nie. “Ons is regtig dankbaar vir die terugvoer wat ons van boere kry.”
Sy moedig boere aan om by hulle projekte betrokke te raak. Wat van die boer verwag word, is om die stigma wat ten opsigte van dié siekte tussen werkers en in die gemeenskap bestaan, te verander.
Verder onderteken AgriAids ’n samewerkingsooreenkoms met die boer waarvolgens die boer onder meer onderneem om die werker tyd te gee om, soos nodig, die plaaslike kliniek te besoek, of om vir mediese ondersoeke te gaan. Sou dit nodig wees, onderneem die boer ook om vervoer aan sy werkers hiervoor te verskaf.
Vir meer inligting, besoek www.agriaids.org.za.
27 Oktober 2011