
Boere van die distrik Adelaide in die Oos-Kaap gaan vir die plaaslike hospitaal geld insamel met ’n motorfietstoer van L’Agulhas tot Kaïro. Luidens ’n verklaring het die hospitaal dringend ’n ekstra opbergingsgeriewe vir water nodig. Dit kan tot R1,2 miljoen kos.
Dié hospitaal ervaar veral in tye van droogte probleme met watervoorsiening, aangesien water dan vir 52 km van die Visrivier af gepomp moet word. Dit veroorsaak onderbrekings in watervoorsiening wat in die verlede tot gevolg gehad het dat van die hospitaal se vleuels tydelik gesluit moes word.
Duisende kilometer
Drie boere en ’n Griekse inwoner van die dorp het besluit om van 30 Maart af die afstand van 12 665 km oor 45 dae aan te durf op vier Kawasaki KLW-motorfietse.
Die hospitaal bestaan sedert 1959. Die gemeenskap moes self die helfte van die geld insamel om met die bouery te begin. Die Regering het in 1950 geweier om ’n hospitaal op die dorp te bou en die gemeenskap het ’n kontrak met die Regering van die dag aangegaan dat die staat R1,00 vir elke R1,00 wat die gemeenskap insamel, sou subsidieer.
Die bouwerk het in 1958 begin en die hospitaal is op 21 Januarie 1959 geopen. Tans is die hospitaal vir 90% van sy inkomste van staatsubsidies afhanklik. Die res van die inkomste kom van geld wat private pasiënte betaal asook van donasies van die gemeenskap.
Hulp
Die hospitaal vra belangstellendes om ’n deel van die viermanskap se reis na Kaïro te borg, en so geld vir die hospitaal in te samel.
Die bankbesonderhede is:
Bank – Eerste Nasionale Bank
Rekeningnaam – Adelaide Hospital Board of Aid (spaarrekening)
Rekeningnommer – 60152054446
Takkode – 210119
2 Maart 2011