
As kragverspreiders krag van boere sou aankoop teen ’n minimale bedrag van 70 sent/watt, sal boere vining met hul eie kapitaal stelsels installeer. “Wat dit bykans onnodig sal maak om nóg ’n klomp duur nuwe kragstasies te bou,” sê mnr. Danie Coetzee, ’n boer van Upington en kenner van alternatiewe energie.
Antwoorde vir die kragkrisis in Suid-Afrika lê in sonkrag en die landbou, meen Coetzee. Maar as besluitnemers egter aanhou om hulp wat uit die boerdery-gemeenskap aangebied word, te ignoreer, kan die gevolge in die toekoms veel erger raak.”
Hy sê pryse van sonpanele het die laaste jare drasties gedaal. Al hoe meer ondernemings en boere besef vandag die voordele van sonkrag en groot stelsels is al geïnstalleer om kragrekenings te verlaag. Met die huidige rentekoerse en sonpaneel- en elektrisiteitspryse kan ’n sonkragstelsel homself binne drie tot vyf jaar terugbetaal. “Die kanse is goed dat paneelpryse verder gaan daal, terwyl die kanse 100% is dat kragpryse verder gaan styg.
“Ons sit tans met ernstige elektrisiteitstekorte, en besluitnemers moet besluit oor watter tipe tegnologie die beste en mees ekonomiese gaan wees. Kernkrag en steelkool is die logiese mededingers, en hoewel dit beproefde tegnologie is, is dit duur en neem lank om op te rig. Om ’n nuwe steenkool-kragstasie te bou, kos byvoorbeeld meer as R30/watt, en R70/watt vir kernkragstasie.” Daarenteen het die prys van sonpanele gedaal tot minder as R10/watt.
Coetzee sê moderne tegnologie maak dit moontlik om krag vanaf sonpanele op te wek en dit met die elektrisiteitsnetwerk te sinchroniseer. Die toerusting word aan die netwerk gekoppel en werk só dat krag van die sonpanele éérs gebruik word, en dan net aangevul word met krag vanaf die netwerk. As ’n oormaat krag opgewek word, word die ekstra krag in die network ingepomp.
As kragverspreiders sulke krag vanaf boere sou aankoop teen ’n minimale bedraggie van 70 sent/watt, sal boere vining met hul eie kapitaal stelsels installeer. “Wat dit bykans onnodig sal maak om nóg ’n klomp duur nuwe kragstasies te bou,” meen Coetzee.