Dit sal ‘‘moreel onverdedigbaar’’ wees om wit Suid-Afrikaners op grond van rassediskriminasie asiel in Amerika te gee, sê ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat in Amerika woon.
Mark Behr, ’n bekroonde skrywer van onder meer die boek Die reuk van Appels, doseer aan die Rhodes College in Memphis, Tennessee, berig Volksblad. Hy is deur ’n Amerikaanse prokureursfirma genader en gevra of hy weet van kenners wat ’n wit Afrikaner-familie wat asiel in Amerika soek, kan bystaan.
Dié familie is glo boere en sê hulle sal slagoffers van rassisme wees as hulle na Suid-Afrika terugkeer.
Te midde van uiteenlopende reaksie op die aansoek het mnr. Henk de Graaff van die TLU SA gesê die aansoek is billik weens die plaasmoorde in Suid-Afrika.
Behr sê daar is heelwat voorbeelde in die wêreldgeskiedenis van mense wat aanvanklik onderdruk is en later onderdrukkers geword het.
Hy meen egter daar het nog nie genoeg tyd in Suid-Afrika verloop vir so-iets om op ’n beduidende vlak te gebeur nie.
“As hulle (die familie wat asiel soek) enigsins slagoffers van rassisme is, is dit ongelukkig net ’n rassisme wat hulle self in hul eie verstand geskep het.” sê Behr.
Prof. Leon Wessels, oud-menseregtekommissaris sê die familie se aansoek sal nie slaag nie aangesien daar genoeg ruimte bestaan vir die Afrikaner om in die openbare en private sektor te presteer.
Bron: Volksblad
24 Februarie 2012