
’n Groep van die land se voorste boere en ander landbouleiers het met mnr. Senzeni Zokwana, Minister van landbou, Bosbou en Visserye, mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC en die twee adjunk-minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, me. Candith Mashego-Dlamini en Mcebisi Skwatsha, ontmoet.
Tydens die ontmoeting wat deur die Gordon-instituut vir sakewetenskap en die Standard Bank se sentrum vir agribesigheidsontwikkeling en leierskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) gereël is, is indringend oor grondhervormingsmodelle gepraat.
Die land se topboere, wat bekendes soos mnre. Charl Senekal, Louis de Kock, Rossouw Cillié, Philé van Zyl, Kallie Schoeman, Charles Rossouw; Piet Karsten, Alfonso Visser, Andries Pienaar en Anthony Evans ingesluit het, het hulle verbind tot die Nasionale Ontwikkelingsplan en grondhervorming.
Mnr. Rossouw Cillié, verlede jaar se Nasionale Boer van die Jaar van Ceres, het gesê hy was nog nooit só positief oor boerdery as nou nie. Hervorming in die landbou kan verander word in ’n groot sakegeleentheid vir almal wat daarby betrokke is en baie kan gedoen word om ’n miljoen werksgeleentehede te skep. “Maar dan moet die persepsie na buite verander word dat die Regering boere se grond wil vat.”
In antwoorde het beide Mantashe en Zokwana dit duidelik gestel dat die ANC nooit boere se grond sonder vergoeding sal afneem nie. Die ANC weet dit sal rampspoedig wees, het Mantashe gesê en na die voorbeeld van Zimbabwe verwys.
Zokwana het gesê die voorstel van 50% wat aan werkers afgestaan moet word, is ’n blote voorstel. “Julle moet nou met voorstelle vorendag kom wat wel kan werk.” Hy sê deur sy gesprekke met die sektor begin hy besef wat boere se kwellinge en probleme is en hy wil dit ook sy kwellinge en probleme maak.
’n Werkskomitee sal ’n reeks beleidsbeginsels en verbintenisse wat uit die gesprekke voortgespruit het verwerk, besluit oor take en wie dit moet uitvoer en oor ses maande weer aan die forum verslag doen.