Ná die soveelste kragonderbreking weens kabeldiefstal het boere die voortou geneem om die substasie se veiligheid op te knap. Skaars dae nadat hulle op eie koste moderne sekuriteitskameras laat installeer het, is ’n grootskaalse diefstalpoging afgeweer en is Eskom daar en dan oortuig van die doeltreffendheid van dié inisiatief deur sy gebruikers.
Die oplossing het begin met ’n WhatsApp-groep vir die boere van Parys en Sasolburg wie se krag van die Thahiti-substasie net oorkant die Vaalrivier in Gauteng kom, verduidelik mnr. Johan Viljoen.
Sy plaas is die laaste een op die lyn. Ter wille van veiligheid het hy die groepie begin sodat hulle mekaar kan sê as die krag by een van hulle af is, veral snags as iemand alleen moet uitgaan en ondersoek instel.