Noordwes sal binnekort die tweede provinsie wees waar die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se boereregister-sensus begin.
Luidens ’n verklaring is dié sensus reeds in KwaZulu-Natal onderneem. Die departement het kort voor die begin van Sensus 2011 verlede jaar aangekondig dat dié register oorweeg word. Volgens die departement sal die register op klein- en bestaansboere toegespits wees.
Die departement het besluit om die register saam te stel in ’n poging om meer data oor boere in die land te hê. Dit sal die nasionale en provinsiale departemente glo help met beplanning asook beleidsbesluite.
Mnr. Boitumelo Tshwene, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, sê sowat 50 werklose jeugdiges, van hulle gegradueerdes van die Landboukollege Potchefstroom, sal die opnamepersoneel wees. Die data-insameling sal op 19 Januarie vanjaar by die Dr. Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit begin en oor ’n tydperk van drie maande strek.
Kommersiële boere
Mnr. Dawie Maree, ekonoom by Agri SA, sê hoewel dié projek volgens die departement net betrekking op klein- en bestaansboere het, is kommersiële boere reeds in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap met vraelyste genader.
Maree sê verskeie vrae bestaan oor hoekom dié departement kommersiële boere se inligting ook vra, aangesien so ’n sensus wettiglik die mandaat van Statistiek SA is.
In reaksie op ’n brief van die organisasie aan die departement sê die departement dat sy vraelys op die individuele boer gefokus is, terwyl Statistiek SA in Sensus 2011 die land se totale bevolking getel het.
Mnr. Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê die organisasie se lede sal nie aan die opname deelneem nie. “Dit was ook die mandaat wat Agri SA ’n paar maande gelede onderneem het.” Hy sê hulle het ook nog geen amptelike kennisgewing van Tshwene of sy departement ontvang dat die opname sal begin nie.
Tshwene het ’n versoek aan boere gerig om die opnemers hulle samewerking en toegang tot hul plase te gee.
17 Janaurie 2012