Boere van Witrivier in Mpumalanga het die naweek sowat 24 ton voedsel aan inwoners van die Wesmoot in Pretoria geskenk.
Luidens ‘n nuusverklaring van die Vryheidsfront Plus het agt boere groente, vrugte, eiers en vleis aan sowat 2300 inwoners geskenk. Vier vragmotors het dié voedsel vervoer.
Volgens die party is dit die grootste voedselverspreidingsaksie nog in die geskiedenis van die Wesmoot, waar talle mense in tydelike konstruksies en Wendyhuise in ander se agterplase woon.
Doen iets daadwerklik
“Almal praat oor armoede maar min doen iets daaraan. Ons moet ophou om net oor Kersfees se boodskap van liefde en omgee vir mekaar te praat en eerder elkeen begin om binne sy vermoë iets daadwerklik daaraan te doen,” sê dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier en adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Hy het sy dank teenoor almal wat by die aksie betrokke was uitgespreek: “Mense sê so maklik dat ons nie in Suid-Afrika kan saamwerk nie. Hier is ’n voorbeeld van hoe saamgewerk is tot almal se voordeel”.
Mulder sê skenkings soos die bring egter net tydelike verligting aan armes. Hy meen opheffingswerk, opleiding, en die afskaffing van regstellende aksie sal hulle probleme oor die langtermyn aanspreek.
30 November 2010