
Die eerste Karoo Skoffel wat gedurende die feestyd op Schoombie plaasgevind het, was ’n groot sukses, met besoekers wat van ver af gekom het, sê die Karoo Skoffel se uitvoerende komitee.
Luidens ’n verklaring het sowat 100 mense die geleentheid bygewoon. Van die besoekers was van Durban, Kaapstad en Johannesburg afkomstig.
Die komitee sê hulle het nie geweet hoeveel mense om die aand van 21 Desember verlede jaar te verwag nie, maar hulle is dankbaar dat dit ’n groot sukses was. Hulle het derhalwe besluit om dié “skoffel” ’n jaarlikse geleentheid te maak.
Die idee
Die idee vir die geleentheid het ontstaan ná ’n Sondagmiddagbraai toe ’n groep vriende uit die boerderygemeenskap van Schoombie besluit het dat ’n dans of geleentheid gereël moet word sodat die jonger mense in die gemeenskap mekaar kan leer ken.
Die uitnodiging is aanvanklik gerig aan alle mense onder 40, insluitend families met kinders, van oor die land heen, om in ’n dag en aand van pret te deel. Later is besluit dat aktiwiteite, soos tennis en rolbal, vroeër in die dag ook sal plaasvind.
Me. Christine Southey, een van die organiseerders, sê die weer en kragonderbrekings was aanvanklik groot bronne van kommer, met sterk wind en swaar reën wat vroeg in die dag voorgekom het. Die tenniswedstryd het wel uitgereën, maar die rolbal kon voortgaan.
Karoo se gasvryheid
Volgens Southey het die weer opgeklaar voor die aand se aktiwteite begin het en die braaivleisvure kon sonder enige onderbrekings brand. Die dansbaan is deur die drie- tot vyfjarige kleuters van die distrik geopen, en daar is tot in die vroeë oggendure “geskoffel”.
Die komitee sê hulle sien met groot verwagting uit om besoekers op 15 Desember 2012 vir die volgende Karoo Skoffel te ontvang, en hulle nooi mense uit om terselfdertyd die gasteplase in die distrik en ook die Karoo se gasvryheid te ervaar.
9 Januarie 2012