
Minstens drie boere was Sondag (25 Maart 2012) onder die sowat 1 200 jaers wat die eerste dag van die moordende Absa Cape Epic-bergfietswedren aangedurf het.
Die Hanekom-broers van Ceres het elkeen al drie Epic-bergfietsrenne agter die blad. Hannes en Sakkie, die Tru-Cape-span, het die tydren in 1:27.18,7 afgelê. Hul lê tans 26ste op die ranglys.
“Sondag was baie warm en veral die laaste klim was baie moeilik,” sê Sakkie. Hulle mik om vanjaar weer onder die topdertig te eindig. "Dié kompetisie raak nooit makliker nie. Die week is lank en ’n mens weet nie wat gaan gebeur nie.”
Jan-Pieter Redelinghuys, ’n vrugteboer van die plaas Verrekyker naby Wolseley, en sy spanmaat, Jannas du Plessis van Ceres, het die 27 km-tydren in die Durbanville-koppies in 2:01.53 voltooi. Die roete het ‘n klim van 900 m ingesluit.
Hulle ry onder die vaandel van Team Wolfpack. Veral die laaste 10 km het ’n moedige poging geverg, sê hulle.
Die Hanekoms boer met appels, pere en uie in die Witzenberg-vallei. “Ons sal hierdie week in verbinding bly met die mense by die huis. Dis ’n moeilike storie om genoeg oefentyd tussen die boerdery deur te vind. Ek en my broer is saans 18:00 op die fiets en in die somer kan ons dan so ’n uur en ’n half oefen.
"Ons doen dit drie tot vier keer per week en oor naweke, wanneer ander boere ’n Sondagmiddagslapie vat, is ons weer ná ete op die fiets. Saterdae en Sondae het ons tyd om langer ure in te sit.”
Hoekom kom hulle elke jaar weer terug vir dié taai kompetisie?
“Ons is van jongs af suckers for punishment en neem nog altyd aan dié tipe geleenthede deel. Dit is seker die uitdaging. Die fietsryery bied afleiding van die boerdery wat stres op sy eie is,” sê Sakkie.
Die hele roete strek oor 781 km en word oor agt dae afgelê. Die jaers sal in totaal 16 300 m klim, oftewel twee keer die hoogte van Everest. Die wedren eindig Sondag op Lourensford-wynlandgoed in Somerset-Wes. Volg die boere se vordering by die webtuiste http://www.cape-epic.com.
26 Maart 2012