
Liggelowige mielieboere in die westelike produksiegebied het dalk meer as R12 miljoen verloor in ’n moontlike verneukspul.
Dit was met ’n toestel wat hulle kon huur om glo ’n “energieveld” in hul landerye te skep wat voedingstowwe toegankliker vir die plante sou maak.
"Die toestel is ’n boks met ’n antenna wat klankgolwe teen ’n sekere frekwensie in ’n mielieland uitstuur,” sê dr. Pieter Haumann, uitvoerende hoof van die misstofvereniging van Suider-Afrika (Fertasa).
“Die ontwikkelaar beweer dat die frekwensiebehandeling ’n uitwerking op bestaande voedingstowwe in die grond en atmosfeer het wat dit makliker opneembaar maak vir die plante en dit onnodig maak om kunsmis toe te dien.”
Beweerde voordele
In pamflette wat steeds versprei word, word daarop aanspraak gemaak dat die toestel ook insekte, swamme en onkruid bestry, plaasdiere se produksie verbeter, watergehalte verbeter, plaagdiere verjaag, diere bosluisvry hou, indringerplante vernietig en voertuie se brandstof help bespaar.
Mnr. Jan du Plessis van Benoni, die ontwikkelaar, sê dit is tegnologie uit Amerika wat wêreldwyd bestaan. “Ek het net verdere navorsing oor die toerusting en toepassing daarvan gedoen. Ons waarborg die diens wat ons lewer. Kortom kom dit daarop neer dat elke organisme ’n frekwensie het.
"As jy vir hom dieselfde frekwensie stuur, kry hy meer energie en floreer. As jy sy frekwensie belemmer, verminder jy sy energie en hy vrek.” Hauman betwyfel egter die behandeling. Hy sê volgens lede van Fertasa was dit tragies om die lande van hierdie slagoffers te aanskou ná die wonderlike reëns waarmee die boerderygemeenskap geseën is.
Haumann sê boere het R200 per hektaar vir die behandeling en die huur van die toestelle betaal. “Baie boere het daarvoor geval. Die aansprake oor die bokse is só oortuigend dat meer as 60 000 ha die afgelope twee seisoene ‘behandel’ is. Onthou, met verlede jaar se droogte het baie boere na enige strooihalm gegryp. As ’n mens desperaat en weerloos is, laat jy jou makliker oortuig – veral as iemand baie oortuigend oor enige tipe pseudo-wetenskap is.”
Bedenkinge
Mnr. Martiens du Plessis, grondkundige van die landboumaatskappy NWK het in opdrag van sy werkgewer die “atmosferiese masjien” ook ondersoek en sy bedenkinge daaroor uitgespreek. Hy sê dit is onder andere boere in Wolmaransstad, Ottosdal, Delareyville en Coligny wat deurgeloop het.
’n Man van Klerksdorp, wat hom as die ontwikkelaar van die toestel voorgedoen het, het vir hom gesê hy het die tegnologie ontwikkel. Energie vanuit die atmosfeer word glo na die teikenplant of -organisme gestuur. Volgens die Klerksdorp-ontwikkelaar is daar nie golwe met ’n frekwensie ter sprake nie en kan dit nie gemeet word nie, hoewel die energie in energiepakkies, genaamd fotone, gestuur word.
Hierdie ontwikkelaar het glo ’n “slim” masjien gebou wat die energie meet (wat nie ’n golflengte het nie). Hierdie pseudo-fisika word egter deur Du Plessis bevraagteken. Haumann sê hy hoop die mense wat vir hierdie beweerde verneukspul verantwoordelik is, sal aan die pen ry, want geweldig baie skade is aangerig.
“Dit is net moeilik om te bepaal onder watter dissipline die oortreding sal val, aangesien ‘energievelde’ genoem is maar niks fisiek in die grond toegedien is nie.” Hy waarsku boere om nie goedsmoeds nuwe toestelle of middels te gebruik voor hulle nie bewyse van die werking of geloofwaardige wetenskaplike evaluasies gesien het nie.
Hy meen dit is raadsaam om eers ’n maatskappy te kontak wat ’n lid van Fertasa is omdat lede onderhewig is aan ’n gedragskode om die integriteit van die kunsmisbedryf te bevorder en boere teen twyfelagtige verskaffers wil beskerm.