
Boere kan as “bewaringskampvegters” deur die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) erken word.
Baie van Suid-Afrika se mees bedreigde biodiversiteit bestaan binne die produksielandskap – op landbougrond in sowel gemeenskaps- as private besit – en daarom is dit belangrik om maniere te ontwikkel om hierdie bates te beveilig, sê die organisasie.
Die trust het sy erkenningsprogram, wat reeds ’n sertifikaat en ’n naambord vir bewaarders behels, tot ’n derde vlak vir bewaringskampvegters uitgebrei.
Dié organisasie het in ’n verklaring gesê laasgenoemde erkenning sal gegee word aan mense wat uitsonderlike bewaringspogings op private grond aanwend.
Sulke mense kan deur ’n bewaringsbeampte benoem word, maar grondeienaars kan ook in uitsonderlike gevalle om dié status aansoek doen. In sulke gevalle sal hul bestuurspraktyke en bewaringsetiek deur die betrokke bewaringsvoorligtingsbeamptes aan die hand van spesifieke kriteria vir die betrokke spesies beoordeel word.
Bewaringskampvegters moet egter nie net stappe doen om bedreigde spesies op hul grond te beskerm nie, maar ook poog om te verseker dat alle aspekte van hul habitatbewaring navolgenswaardig is en moet bydra tot bewaringspogings in die gebied waar hulle woon.
Vir meer inligting besoek www.ewt.org.za.