Boere in die Noord-Kaap ly glo miljoene rand se skade weens opleiding met lewendige ammunisie by die Lohatla-weermagbasis.
Luidens ‘n berig op News24.com het boere in dié omgewing al verskeie kere gekla oor wegholveldbrande wat na bewering deur opleidingsbedrywighede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) veroorsaak word.
Volgens boere het opleiding met lewendige ammunisie verlede week plaasgevind en kort daarna het ‘n brand ontstaan.
Die boere het glo al gevra dat opleiding met lewendige ammunisie tussen September en November tydelike gestaak moet word, maar die weermag sê dit sal sy opleidingsprogramme vertraag. Die weermag het wel belowe dat hy gedurende dié tydperk ekstra versigtig sal wees.
Tydens Operasie Golfino in 2009, ‘n internasionale opleidingsessie, het weiding op 10 plase in die omgewing afgebrand en boere eis tans miljoene rand se skadevergoeding van die SANW.
Voorbrande
Tydens verlede week se opleiding het die weermag glo ook voorbrande gemaak, wat hy na bewering nie kon beheer het nie en wat van die boere se plase afgebrand het.
Mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, sê die weermag het verlede jaar belowe dat hy vuurbreke gereed sal hê voor die brandseisoen, en waterpunte by die gevaarlikste plekke tussen die basis en kommersiële plase sal oprig, maar dit is nog nie in plek nie. Dié stappe sal glo sowat R700 000 kos, en die weermag ondervind glo uitdagings met geld in dié verband.
Van Rensburg sê boere is tans warm onder die kraag oor die situasie, maar hy meen dat as alle partye saamwerk, ‘n oplossing vir die jare lange probleem gevind kan word.
18 Oktober 2010