
Die geweld en spanning tussen Rusland en Oekraïne kan van twee kante af ’n impak op die Suid-Afrikaanse landbou hê. Mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, het op die organisasie se kongres ’n mosie van kommer oor die situasie ingestel, nie net weens die impak op Suid-Afrika nie, maar ook in die ondersteuning van boere in veral Oekraïne wat steeds hul gemeenskappe ondersteun ten spyte van die moeilike situasie.
Mathews vorm deel van ’n globale netwerk van boere en via die groepering bied hy en ander boere van reg oor die wêreld steun aan boere wat deur die geweld geraak word. “Daar is een melkboer wat gratis sy melk elke dag in sy plaaslike stad gaan lewer sodat mense steeds toegang tot melk kan hê, en nog ’n boer wat sy koring gratis in sy plaaslike dorp lewer sodat die meulens kan voortgaan om meel te lewer.
“Die boere gee hul eie inkomste prys tot die voordeel van hul gemeenskappe.
“Hierdie boere leef tans van dag tot dag en uur tot uur en maak planne, veral met die groot onsekerheid wat heers met hul koringplantseisoen wat binne die volgende dae moet begin.”
Mathews sê die situasie daar vergelyk met die situasie wat tydens die gewelddadige onluste in Julie verlede jaar in KwaZulu-Natal en Gauteng geheers het, toe plaaslike boere ook voortgegaan het om kosprodukte aan hul plaaslike gemeenskappe te lewer toe kos op sy skaarste was. “Dis die ooreenkoms tussen ons en hulle: Boere wêreldwyd is basies dieselfde tipe mense.”
Inset- en graanpryse
Oekraïne is die wêreld se grootste produsent van sonneblomsaad en sonneblomolie, terwyl Rusland en Oekraïne onderskeidelik die grootste en derde grootste uitvoerder van koring is. Volgens Mathews en mnr. Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA, gaan die situasie Suid-Afrika se boere op twee maniere gaan beïnvloed. Dit bied geleenthede vir plaaslike boere ten opsigte van graanpryse, maar ook probleme ten opsigte van insetkoste.
“Ons word reeds deur ’n styging van 285% in die koste van stikstof in die gesig gestaar, en Rusland is ’n groot uitvoerder van stikstof, wat die situasie kan vererger.”
Paaie en veiligheid
Te midde van die hoë koste en die planne wat boere moet maak om dit te absorbeer, bied gebrekkige infrastruktuur en misdaad bykomende probleme. Talle paaie was voor die swaar somerreënneerslae in ’n swak toestand. In talle gebiede is die paaie ná die swaar reën in ’n haglike toestand.
Taljaard sê, as deel van Agri SA, skakel Graan SA ook met die regering oor die toestande van paaie op die platteland. “Ons het onlangs landwyd gereis met streekvergaderings en ons het in byna elke dorp waar ons aangedoen het erge verval van padinfrastruktuur gesien.”
Met strooptyd wat in die somerreënstreek voorlê, probeer talle boere paaie herstel sodat hulle besigheid kan doen. “Dis wonderlik om te sien hoe boere inspring en verantwoordelikheid neem en probeer help,” aldus Taljaard.
Boere van die distrik Hertzogville het aan Landbou.com gesê hulle het met die samewerking van die plaaslike regering en met hul eie arbeid en voertuie slaggate op sowat 50 km tussen Dealesville en Hertzogville met 124 ton teer opgevul. Die pad kort egter ernstige herstelwerk, want die slaggate wat opgevul is, word reeds weer uitgetrap.
Volgens mnr. Ramodisa Monaisa, ondervoorsitter van Graan SA, het van die jong manne van die informele nedersetting by Mareetsane, waar baie swaar reën en oorstromings dié somer al voorgekom het, self probeer om gate in paaie met grond op te vul, maar hulle kan sonder hulp net soveel doen.
Mathews sê hoewel boere nou selfs padbouers moet wees, is die situasie nie volhoubaar nie. “Dis ’n jammerlike toedrag van sake dat boere soveel moet doen om hul gemeenskappe te help en te kan boer, terwyl die regering nie sy deel doen nie.”
Boere moet nou boonop private sekuriteit aanstel om hulself veilig op hul plase te hou. Met oestyd moet hulle meer sekuriteit aanstel om hul plase te patrolleer om seker te maak dat hul grane, oeste en vee nie gesteel word nie.
“Boere en die burgerlike samelewing is bereid om die werk te doen waar die regering in sy taak misluk, maar ons sal die regering aanhou vra om ’n bemagtigende omgewing te skep vir die private sektor om te kan doen wat gedoen moet word.”