
Produsente se se plantvoorneme vir somergewasse vir die 2017 seisoen is deur die Nasionale Oesskattingskomitee bekend gemaak. Sien tabel hieronder.
Afgesien van grondbone, wat 'n relatief klein oppervlakte beslaan, is die groot verandering by wit mielies. Aanduidings vanaf boere is dat hulle beplan om 43% meer wit mielies as in die voorafgaande seisoen te plant.
Hierdie stelling is eintlik misleidend, aangesien reënval gedurende 2015 se planttyd in groot gebiede weggebly het. Al het boere beplan om te plant, kon hulle nie.
Dit is duidelik uit die grafiek hierbo dat die beplande witmielie-aanplantings vir 2016 omtrent dieselfde as die gemiddelde aanplantings vir die vorige vyf jaar is.
Die beoogde geelmielie-hektare is 8% meer as die vorige seisoen, maar dit is steeds byna 100 000 ha minder as die vyfjaar-gemiddeld.
Indien na wit- en geel mielies saam gekyk word, sal beplande aanplantings ongeveer 90 000 ha minder as die vyfjaar-gemiddeld wees.
Hoewel die finale vraag- en aanbod-syfers vir 2016/’17 nog nie gemaak kan word nie, dui voorlopige berekenings (met bg. aanplantings as basis) daarop dat die aanbod van mielies vir 2017/’18 steeds laag sal wees. Indien produsente nie ‘n bo-gemiddelde opbrengs gaan kry nie, sal mielies ook gedurende die volgende seisoen ingevoer moet word.
Dis nie onmoontlik nie, maar gerugte dat die prys van mielies vir die volgende seisoen tot geelmielie-uitvoerpariteit en laer sal val, is in hierdie stadium voortydig en niks meer as bangmaakstories nie. Daar sal nog heelwat water is die see (en oor landerye) moet loop voordat dit sal realiseer.
Prysverskansing bly noodsaaklik, maar moet só gedoen word om koste sover moontlik te beperk en dat moontlike opwaartse potensiaal nie prysgegee word nie.
* Johann Strauss is 'n navorser by BVG Securities.