Boere wat hul boerderybedrywighede na die Kongo uitgebrei het, sit tans skouer aan die wiel vir hul eerste oes.
’n Opgewonde mnr. André Botha, voorsitter van Agri Kongo, het aan Landbou.com gesê: “Ek skud tans my longe uit op ’n pad in die Kongo, maar dinge lyk baie goed hier.”
Dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri SA se Afrikakomitee, sê die eerste groep boere het reeds begin om sowat 2 000 ha van die 80 000 ha wat die land se regering aan hulle toevertrou het, skoon te maak en om te ploeg.
“Die manne sê dinge lyk goed. Hulle maak tans sowat 80 ha per dag skoon. Hulle wil plant voordat die erge reëntyd in Maart aanbreek.”
Die groep moet hul eerste mielie-oes gedurende Augustus en September lewer ingevolge ’n ooreenkoms met die Kongolese regering en die World Food Programme. Botha het in Junie verlede jaar aan Landbou.com gesê: “Ons het reeds die eerste leweringskontrakte vir mielies vasgestel op rondom R2 400 per ton.”
Grensposte
Die groep het hul reis na die Kongo Brazzaville met ’n groot konvooi van vragmotors vol werktuie en ander toerusting reeds in Desember 2011 aangepak. Volgens De Jager het die groep teëspoed by die grensposte van Angola gehad.
“Die konvooi was groot en die boere het baie toerusting gehad om deur te neem. Die beamptes hulle erg geteister vir omkoopgeld om die konvooie deur te laat. Maar hulle is gelukkig nou daar en dinge lyk goed,” vertel De Jager.
Dié eerste groep boere sal meestal mielies en rys plant, terwyl ’n tweede groep binnekort sal vertrek om te begin voorbereidings tref om bloekomplantasies aan te plant. De Jager sê dié groep word gefinansier deur ’n Kanadese maatskappy en die nodige toerusting en saad sal van Europa af ingevoer word.
18 Januarie 2012