
’n Veldbrand laat in 2016, wat altesaam16 plase in die Calvinia-omgewing ernstig beskadig het, het veroorsaak dat boere in dié gebied dringend voer benodig.
Lees berig: Veldbrand saai verwoesting by Calvinia
Maar toe maak mede-boere en 'n vervoerkontrakteur hul harte oop, skenk voer en ry dit aan Calvinia toe!
“Vrydagoggend (20 Januarie) is die woorde min en die trane van vreugde baie. Boere het hul harte oopgemaak vir mede-boere in Calvinia ná die veldbrand,” sê mnr. André Steenkamp, wie se broer in die distrik boer.
“Tot Woensdag was dit nog 'n stryd om die geskenkte voer geskuif te kry van die skenkers se plase na die depot in Calvinia. Die landbouvereniging het nie genoeg geld gehad om die geskenkte vervoer na Calvinia te kon vervoer nie.”
Steenkamp sê Slabbert Vervoer van Clanwilliam het vyf interlinks gratis beskikbaar gestel om die voer na Calvinia te vervoer. “ "Dis 'n besondere gebaar wat die landbouvereniging en boere tot R75 000 kon gekos het, maar wat Slabbert Vervoer gratis vir ons hanteer. Altesaam 80 ton voer word deur hul barmhartige gebaar vervoer.”
Hy sê Caring Daisies het ook 'n kontantbydrae gemaak vir boere in Calvinia om voer mee aan te koop. “Die sanger Adam Tas se vrou Caren is 'n boorling van Calvinia en haar ouers boer in die distrik. Hul is egter nie deur die brande geraak nie. Caren is lid van Caring Daisies en hul doen wonderlike werk dwarsoor Suid-Afrika.”
Vrydag is 'n besending voer, wat deur vier boere van Tulbagh geskenk is, ook op Calvinia afgelaai. (Sien foto's hieronder van beide die voerskenkings.)
Steenkamp het groot dank uitgespreek teenoor diegene wat wat hul harte en hande oopgestel het vir die boere in hul krisistyd.
* Steenkamp se nommer is 082 520 8665.