Al hoe meer patente en nuwe uitvindsels word vir die Nampo-Oesdag se Omnia/Graan SA Boerepatente-kompetisie ingeskryf.
Die aantal inskrywings het vanjaar op 57 te staan gekom, en die standplaas was weer een van die gewildste besoekpunte op die Oesdag.
Een van die gewildste patente was die Gemini-balanswaterpomp. Mnr. Johan Niewenhuis van Bainsvlei, by Bloemfontein, het dié boorgatwaterpomp ontwerp.
Hy sê volgens toetse wat op die pomp gedoen is, kan dit tot 90% op kragverbruik spaar. Dit kan ook met sonkrag aangedryf word en op enige diepte geïnstalleer word.
Niewenhuis se waterpomp het die eerste prys in die afdeling vir elektriese toebehore in die Boerepatente-kompetisie gewen.
Rugbyliefhebbers
Nóg ’n gunsteling-uitvindsel is die “vlaghandvatsel” wat ’n rugbytoeskouer in staat stel om ongesiens vloeibare verversings na ’n sportbyeenkoms te neem. Die handvatsel is me. Samantha Goosen se blink idee.
Dit word van plastiek gemaak. Die handvatsel is aan sy bo-punt geseël en dit het ’n ronde prop aan die onderkant. Dit kan dus met ’n vloeistof opgevul word.
Ander gewilde boerepantente was ’n handpampoenplanter, ’n kunsmisoorlaaiwa, ’n makataan-prikker, ’n “Cowboy”-slot en ’n multiveldslyper.
Kyk hier na ’n galery van die boerepatente wat vanjaar op die Nampo-Oesdag te sien was.
18 Mei 2012