’n Boervrou van Polokwane is glo deur haar man in die been gewond tydens ’n vermeende plaasaanval.
Lt.kol. Moatshe Mgoepe, polisiewoordvoerder, sê die 69-jarige boer het glo sy vrou, wat in haar veertigs is, in die been geskiet terwyl hy sy geweer gelaai het om ’n aanvaller af te weer.
Die boer was Dinsdagaand (7 Februarie 2011) omstreeks 18:00 in sy motorhuis toe ’n onbekende man hom met ’n wapen genader het. Die boer kon daarin slaag om sy honde op die verdagte los te laat en het die huis ingehardloop.
Haastig
“Hy het sy wapen baie vinnig en senuagtig met koeëls gelaai toe ’n skoot afgaan en die boer se vrou in die been tref,” vertel Mgoepe. Die skoot het na verwagting die verdagte afgeskrik, want dié het van die toneel gevlug.
Niks is gesteel nie, en die vrou word in ’n plaaslike hospitaal behandel. Mgoepe sê nog niemand is in verband met die aanval aangekeer nie. Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om 082 565 8073 te skakel.
8 Februarie 2012