
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die vrou se bure het vanoggend omstreeks 09:00 op haar liggaam in die huis op die plaas langs die N14 afgekom. Haar hande was vasgebind.
Haar man is in die veld op die plaas gevind. Hy kon daarin slaag om sy vasgebinde hande los te maak. Hy moes mediese behandeling ontvang.
Die egpaar se swart GWM-bakkie is danksy die gemeenskap en plaaslike veiligheidsmaatskappy se hulp sowat 2 km van die plaas af gevind. Ses vuurwapens wat by die egpaar gesteel is, is deur die polisie op die toneel gevind.
Kock sê die polisie kan nie op hierdie stadium bevestig of die verdagtes op die plaas gewerk het nie.
Enigiemand met nuttige inligting word versoek om om kapt. Ronnie Oosterhuis by 082 495 4655 of konst. Kabelo Nkatlholang by 082 302 0395 te kontak. Die polisie maan die publiek om nie die verdagtes te konfronteer nie aangesien hulle as gewapen en gevaarlik beskou word.
Plaasaanval by Lydenburg
Intussen word drie verdagtes gesoek na hulle Sondagmiddag op ’n plaas in Lydenburg, Mpumalanga, toegeslaan het, en onder meer ’n stoof, ’n vrieskas, twee voertuie en ’n kampsleepwa gebuit het.
Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die drie verdagtes het die plaas omstreeks 14:00 te voet betree. Hulle het die slagoffers – ’n man, sy vrou en hul jong dogter – vasgebind en die huis geplunder. Die verdagtes het volgens Mohlala donker reënjasse aangehad en was gewapen met ’n handwapen en ’n jaggeweer.
Die verdagtes het die huis vermoedelik eers om 19:00 verlaat.
Die man kon homself teen 20:00 bevry en het om 20:20 daarin geslaag om alarm te maak by die plaaseienaar. Die eienaar het sy seun gekontak en verder alarm gemaak by die res van die gemeenskap.
Die verdagtes het persoonlike besittings gesteel, asook ’n wit Toyota Hilux 2.4D met hoë beestralies (registrasienommer JCK 862 MP), ’n silwer Honda CRV (registrasienommer KHV 765 MP) en ’n kampsleepwa met ’n bruin seil (registrasienommer KHV 757 MP). Op die bakkie het hulle ’n KTM-motorfiets, ’n stoof, ’n vrieskas en ander goedere gelaai wat uit die huis gesteel is.