
’n Koelkop-boervrou van Greytown het vandeesweek op een van hul aanvallers geskiet kort nadat haar man ’n vergadering oor misdaad in die omgewing bygewoon het. Twee van die verdagtes het in die proses gesterf.
'n Gemeenskapslid het aan The Witness vertel mnr. Julian Chaning Pearce was pas tuis ná die vergadering toe die aanvallers hom in sy huis verras het. Sy vrou, Carla, het blitsig gereageer en haar eie vuurwapen gegryp en teruggeskiet toe een van die ses mans Julian in die skouer geskiet het.
Die rowers het op die vlug geslaan en een van hulle – wat vermoedelik gewond is – het in die swembad geval. Dit was tydens die ter perse gaan nie duidelik of hy verdrink het of aan die skietwond beswyk het nie. 'n Tweede aanvaller is deur naburige boere, wat binne minute op ’n noodoproep op die radionetwerk gereageer het, op die plaas doodgeskiet.
Julian is na ’n private hospitaal in Pietermaritzburg gehaas terwyl Carla net 'n oppervlakkige beenwond opgedoen het. Daar is ontdek dat die aanvallers deur 'n elektriese heining gebreek en deur 'n venster toegang tot die huis verkry het.
Volgens mnr. Greg Hull, voorsitter van Umvoti Agricultural Society, was daar die afgelope maande 'n duidelike toename in misdaad in die gebied. Nog 'n boer het aan The Witness vertel dat die misdadigers vreesloos is en alles voor die voet steel.
Bron: The Witness.