
Met ’n tyd van 3 uur en 8 minute, teen ’n gemiddelde spoed van 23,6km per uur, het ’n boervrou van die Oos-Vrystaat en haar Arabierhings die eerste dag van vanjaar se Fauresmith-uithourit voltooi.
Vanjaar is die vierde keer wat die 28-jarige me. Carlette van Eeden en haar perd, Sanniesguns Jazz Xstream, aan di’e uitmergelende uithourit deelneem.
Luidens ’n berig in Volksblad het Van Eeden en haar man, Petrus, mekaar vyf jaar gelede by dié uithourit ontmoet. Sy is nou die ma van twee kinders en boer saam met Petrus op die plaas Lust, naby Verkykerskop. Hulle bedryf ’n bees- en skaapboerdery.
Van Eeden is ook lid van die Uithouritvereniging van Suid-Afrika (ERASA) se nasionale span wat aan die uithourit deelneem.
Afrikaanse treffers
Volgens die berig is Van Eeden baie tevrede met haar perd se vertoning. Sy vertel glo dat sy en die perd die terrein op die maat van ’n verskeidenheid ou Afrikaanse treffers afgelê het.
Die ruiterpaar het baie hard vir die uithourit geoefen en gereeld die langpad op die plaas na die beeste toe, saam aangepak.
Die uithourit beslaan ’n roete van 203km wat oor drie dae afgelê moet word. Die eerste twee dae se afstande is 75km, en die laaste dag se roete is 53km.
Me. Diena Smit, amptelike woordvoerder vir die uithourit, sê die eerste dag van die 39ste Fauresmith-uithourit het sonder enige ernstige voorvalle verloop. Altesame 389 ruiters neem vanjaar deel.
Bron: Volksblad