’n Boervrou van Doornfontein is ten aanskoue van haar driejarige dogter en vyfjarige seun in ’n plaasaanval doodgeskiet, sê die SA Polisiediens.
Kapt. Appel Ernst, woordvoerder, sê die voorval het Maandag (30 April 2012) omstreeks 20:00 plaasgevind.
Mnr. Willem Stafleu was op pad terug plaas toe van die melkstal af toe die voorval plaasgevind het. Ernst sê hy het die twee kleuters in die plaaspad aangetref waar hulle na die grootpad gestap het. Die kinders was erg getraumatiseer en hy het besef iets was verkeerd by die huis.
Hy het op die 34-jarige Venessa se liggaam afgekom.
Verdagtes
Ernst sê polisiebeamptes het die toneel sedert die voorval elke dag besoek op soek na leidrade vir moontlike verdagtes. Sy sê dit is nie duidelik hoeveel verdagtes betrokke was nie aangesien die kinders te erg getraumatiseer is om tans inligting te gee.
Mnr. Dirk Hanekom, uitvoerende hoof van Agri Gauteng, sê hulle sou die boere in dié omgewing die week besoek het om “nuwe lewe” in die plaaslike landbou-organisasie te blaas. Hy sê die besoek sal met ’n week uitgestel word, en dat hulle innige simpantie met die familie betoon.
2 Mei 2012