
Die Finansiële Dienste-raad (FDR) het pas ’n voormalige Safex-verhandelaar met R2 miljoen beboet vir mark-manipulasie met ’n sonneblom-kontrak.
Die betrokke vooruit-kontrak was vir lewering in September 2013, en mnr. Robert Fourie het in daardie stadium vir ICAP Securities Suid-Afrika gewerk. Fourie is daaraan skuldig bevind dat hy ’n misleidende voorstelling van ’n verhandelingsaktiwiteit gemaak het, en gevolglik ’n kunsmatige prys bewerkstellig het.
Afgevaardigdes op Graan SA se jaarkongres was vandag redelik ontsteld oor die lang tyd wat dit geneem het om die saak af te handel, en het gesê hulle beskou die boete as ’n relatief klein bedrag.
Een het aangedui dat hy in daardie tyd aan die mark deelgeneem het, en verliese weens die wanvoorstelling gely het. Die FDR sê in ’n verklaring Fourie het op bepaalde dae in Junie en Julie 2013 die betrokke kontrak aan homself verhandel, sodat daar geen voordelige verwisseling van eienaarskap was nie. Dit het die indruk geskep dat die kontrak aktief verhandel, en die kunsmatige prys geskep.
As verswarende faktor het die FDR se wetstoepassing-komitee in ag geneem dat Fourie, in sy posisie as verhandelaar, die plig gehad het om as hekwagter op te tree en manipulerende verhandelings op die beurs te verhoed. Hy het dus sy plig versuim.