
Mnr. Charles Back van Fairveiw in die Paarl, het ’n lewenslange prestasietoekenning van die hoogaangeskrewe International Wine Challenge (IWC) ontvang.
Die beoordelaars het onder meer Back se vasberadenheid om sy eie toekomsvisie ’n werklikheid te maak, beloon. ’n Paar voorbeelde van die baanbrekerswerk wat Back in die Suid-Afrikaanse wynbedryf gedoen het, was om die variëteite Viognier, Tempranillo, Tannat, Sangiovese en Petite Sirah na Suid-Afrika in te voer. Boonop was hy ’n invloedryke krag in die “Swartland-revolusie” én hy het vorm gegee aan die toekoms van wyn- en agri-toerisme in Suid-Afrika deur onder meer die Spice Route-bestemming te vestig.
Daarbenewens het die Fairview-, Goats do Roam- en Spice Route-handelsmerke reeds vele toekennings ingeoes. Back was ook ’n pionier wat die bemagtiging van plaaswerkers betref en het reeds in 1997 die eerste eiendom aan sy werkers bemaak. Sedertdien het hy heelwat aandele in sy maatskappy aan sy bestuur, waarvan die helfte voorheen benadeel was, bemaak.
“Charles was oor die jare ’n enorme invloed op die wynbedryf in Suid-Afrika én wêreldwyd. Hy produseer kampioenwyne en sy toewyding tot sy gemeenskap is prysenswaardig,” het mnr. Charles Metcalfe, gesamentlike voorsitter van die IWC, by die geleentheid in Londen gesê.
Back die toekenning opgedra aan die 500 werknemers van die maatskappy. “Dit is ’n eer om die toekenning te ontvang. Suid-Afrika het aan my die geleentheid gebied om my passie vir wyn en wingerd te gebruik om waarde toe te voeg tot die lewens van diegene wat dit bewerk,” het Back gesê.