
Die drie mans word aangekla van moord en poging tot moord. Volgens adj.off. Joseph Swartbooi is die drie verdagtes op 6 Desember 2019 in Lesotho in hegtenis geneem nadat ’n aansoek om ’n lasbrief vir hul inhegtenisneming uitgereik is. Hul uitlewering is op 25 April vanjaar goedgekeur. Die drie verdagtes is Maandag (25 Julie) by die Maseru-grenspos uitgelewer en in hegtenis geneem.
Wessels, wat op die plaas Kapteinsdrift geboer het, se lyk is op Maandag 13 Mei 2019 sowat 200 m van sy plaashuis aangetref nadat hy en sy vrou, Liezel (55), ure lank deur vier verdagtes gyselaar gehou is. Liezel is met ’n skerp voorwerp in die bors gesteek en glo ook met kookwater gebrand. Vuurwapens en 'n onbekende bedrag kontant is gesteel.
’n Man (29), ook ’n burger van Lesotho, is die dag ná Wessels se moord in hegtenis geneem. Hy het een van die gesteelde vuurwapens in sy besit gehad.
* Die saak is uitgestel tot Woensdag 3 Augustus wanneer die verdagtes moet aandui of hulle om borgtog wil aansoek doen.