
Mnr. Tool Wessels, wat op die plaas Kapteinsdrift geboer het, se lyk is op Maandag 13 Mei sowat 200 m van sy plaashuis gevind nadat hy en sy vrou, Liezel (55), ure lank deur vier verdagtes gyselaar gehou is. Liezel is ’n rekenmeester by Bonnievale Wines. Sy is met ’n skerp voorwerp in die bors gesteek en glo ook met kookwater gebrand. Vuurwapens is gesteel. ’n Jong man (19), in wie se besit een van die vuurwapens gevind is, is sedertdien in hegtenis geneem in verband met die moord en die polisie se ondersoek duur voort.
Jonker sê ’n gevoel van verslaentheid hang oor die dorp waar die inwoners gewoonlik hierdie tyd van die jaar sou besig wees met voorbereidings vir die jaarlikse winterbasaar. Vanjaar vorder die voorbereidings egter stadig en pleks van ’n feestelike atmosfeer heers woede en diepe hartseer onder die mense van Bonnievale. “Dit wat gebeur het, voel eintlik nog so onwerklik. Dit moet nog insink. Ons wou nie die besonderhede van die voorval glo nie, want dit was so totaal onmenslik.”
Gemeenskap geskok
Tool is volgens haar een van die laaste mense wie ’n mens sou dink so iets kon oorkom. “Dit gaan nog bitter lank vir die gemeenskap, nie net die boere nie, kos om oor hierdie skok te kom. Tool was oral in die gemeenskap betrokke.”
Daar lê ook ‘n moeilike pad vir Liezel voor. Sy word in Mediclinic Worcester behandel en sal moontlik teen die einde van die week ontslaan word. “Dit gaan goed met haar behandeling. Die dokters sê sy sou nie die voorval sou oorleef het as sy nie so fiks en sterk was nie. Daar lê egter ‘n moeilike pad vir haar en haar dogters voor. Sy sal baie opvolgbehandelings vir haar brandwonde moet ontvang.”
Twee moorde
Sy sê die dorp se mense is bang nadat twee moorde binne vyf maande in Bonnievale plaasgevind het. “Ons het nog altyd gedink Bonnievale is ’n veilige dorp. Nou is mense besig om ekstra sekuriteit by hul huise aan te bring. ’n Mens wil nie in ’n tronk lewe nie, maar jy het nie regtig ’n ander keuse nie.”
Sy vertel dat die voorval die gevoel van hoop en optimisme wat mense ná die verkiesing gehad het, nou gesmoor het. “Ons was almal so optimisties nadat die verkiesing plaasgevind het. Ons het so baie hoop vir die toekoms gehad en gedink Suid-Afrika sal nou kan omdraai en op ’n beter pad beland, maar dan gebeur so iets.”
Die egpaar se twee dogters, Annelie (23) en Jana (20), wil nie terugkeer na die huis waar hul ouers aangeval is nie. Albei is studente aan die Universiteit Stellenbosch.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.