
Met die vrystelling van die heel eerste genomiese BLUP-teelwaardes vir vleisbeeste in Afrika het Bonsmara-telers die voordele van die nuutste telingstegnologie vir plaasvee aangegryp.
In 'n gesamentlike nuusverklaring sê SA Stamboek en Bonsmara SA dat dié ras die voortou geneem het om genomiese seleksie in Afrika, en selfs wêreldwyd, vir die ras ’n werklikheid te maak. Bonsmara SA se algemene jaarvergadering het reeds in 2012 besluit om in genomiese seleksie te belê. Hierdie belegging in die ras se toekoms is gemaak deur invloedryke teeldiere se genomiese profiele te bekom vir die vestiging van ’n verwysingspopulasie.
Die aanvanklike belegging is gedoen met eie geld en bydraes van telers. Stamboek se veekundiges het saam met die Bonsmara-raad hierdie leiding geneem om die projek te beplan en die wetenskaplike beginsels na te volg wat nodig is om genomiese inligting deel te maak van teelwaarde-voorspellings.
Genomiese waardes beskikbaar vanaf 1 Julie 2017
Die Bonsmara-telersgenootskap en SA Stamboek sê in die nuusverklaring hulle is trots om aan te kondig dat die eerste Genomiese BLUP teelwaardes vir die ras vanaf 1 Julie 2017 beskikbaar is. Dit sal ook voortaan deel vorm van die gereelde roetine genetiese ontledings wat maandeliks uitgevoer word. Die diens stel telers in staat om voortaan jong diere genomies te toets en sodoende die akkuraatheid van die BLUP-teelwaardes vir dié diere te verhoog.
Dit verminder die risiko by besluitneming om teeldiere te selekteer wat in die toekoms 'n impak in kuddes sal maak. Veral jong bulle is dus uitstekende kandidate om in die toekoms genomies te toets voordat hulle oorweeg word as kuddevaders, en veral as KI kandidate.
Diere waarvoor genotipes ingesluit word in BLUP-ontledings sal voortaan gemerk word met die “GenoTyped” logo. Soektogte op www.SABeefBulls.com kan ook gedoen word op die beskikbaarheid van genotipe, al dan nie, van elke Bonsmara dier in die ras.
• Vir meer inligting kontak Bobbie van der Westhuizen (bobbie@studook.co.za ), Helena Theron (helena@studbook.co.za ), Bernard Burger (bernard@bonsmara.co.za ) of Louis Steyl (louis@bonsmara.co.za ).
Lees die volledige nuusverklaring in die aanhangsel hieronder.