’n Jong wynmaker en boer van ’n familiebesigheid in Wellington, mnr. Petrus Bosman, is die wenner van Agri Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar 2012.
Bosman is op ’n spoggeleentheid by Eengezind buite Durbanville as vanjaar se wenner aangewys. Hy sal later vanjaar meeding teen wenners van die ander provinsies om die groot prys as Suid-Afrika se Jongboer van die Jaar.
Die ander finaliste in die kompetisie was mnre. Hannes Toua van die Cerasus-boerdery, Piet Steenkamp van Groenland en Charl de Wet van Waboomskloof.
Bosman, wat saam met sy familie op die plaas Lelienfontein boer, is ook die direkteur van VinPro vir die distrik Paarl.
Hy het in sy toespraak by die oorhandiging gesê dat sy geheim van boerderysukses is om positief te bly en omstandighede in geleenthede te omskep.
Konferensie
Agri Wes-Kaap het ook ’n konferensie vir die jong boere teenwoordig aangebied waar mnr. Jan van Zyl, hoof van landboubemarking en inligting in FNB-handelsbankdienste, Kobus Pienaar, hoof van direkte landbouprogramme in Afrika suid van die Sahara by Massmart en prof. Piet Croucamp, politieke kommentator en senior lektor by die Universiteit van Johannesburg, hulle toegespreek het.
Ál drie sprekers het die belangrikheid van aanpasbaarheid in die landbou en Suid-Afrika as geheel benadruk en die jong boere aangeraai om met tradisies te breek wat hulle in hul besigheid terughou.
25 Mei 2012