
Hoewel wynboere meen die R12 per aandeel wat Pioneer Foods vir KWV aanbied “totaal onaanvaarbaar” is, is daar tog groot KWV-aandeelhouers wat op ‘n regstreekse of onregstreekse wyse ook ‘n belang in Pioneer het en vir wie só ‘n aanbod nie ‘n probleem sal wees nie.
Mnr. Danie de Wet, voormalige voorsitter en groot aandeelhouer van KWV, sê boere-aandeelhouers is “bitter ontevrede” oor die aanbod van sowat R827 miljoen. ‘n Kwart daarvan sal met Pioneer-aandele betaal word en die res in kontant.
‘n Debat heers tans oor die bepaling van dié aankoopprys en markontelders, soos mnr. Wilhelm Hertzog van Regarding Capital Management, meen Pioneer onderwaardeer die KWV-aandele en dat dit minstens sowat R18,60 werd is.
Maar, sê De Wet, die grense tussen eienaarskap van die twee maatskappye is vaag en baie van die direkteure en aandeelhouers besit aandele in beide maatskappye.
‘Gatsak-broeksak-transaksie’
“Zeder, wat wil verkoop, is in die hande van PSG. PSG is die grootste enkele aandeelhouer in Zeder en het die volle direksie aangestel. Aan die ander kant het PSG ook ‘n beherende aandeel in Kaap Agri, wat weer ‘n beherende aandeel in Pioneer Foods het. PSG het ook op sy eie direkte aandele in Pioneer Foods. Hierdie is dus ‘n gatsak-broeksak-transaksie,” verduidelik De Wet.
“Sou die transaksie voortgaan, word KWV uit Zeder geskuif na Pioneer, maar dit is steeds onder PSG-beheer.” ‘n Zeder-aandeelhouer sal dus die aanbod van R12 as goeie waarde beskou, want sy aandele word net na ‘n ander entiteit geskuif.
“Thys du Toit (voorsitter van KWV) is ook ‘n direkteur van PSG en het Pioneer-aandele. Daar is dus konflik van belange. Voorts is die KWV-direksie ook gelaai met mense van PSG, soos Jannie Mouton en Antonie Jacobs. As jy gaan kyk wie op die direksie van twaalf persone nie konflikterende belange het nie, is dit maar baie min,” sê De Wet.
Trotse maatskappy
“Die hele ding is taamlik negatief. Die KWV is amper 100 jaar oud, dit is ‘n trotse maatskappy. Dit is vir my ‘n groot bron van kommer dat die werknemers nou gedemotiveer is. Hulle oog is nie op die bal nie, want daar heers onsekerheid.”
Hy is ook bekommerd oor die werknemers, individue en groeperings wat deel uitmaak van die swart ekonomiese bemagtigings-inisiatief wat in 2004 onder De Wet se voorsitterskap op die been gebring is. Hulle besit ook 25%-aandele in die KWV.
“Hulle sal ook moet wegstap met R12 per aandeel, en ek dink dit is onbillik teenoor hulle. Ek kan nie sien dat hulle die transaksie gaan steun nie.”
De Wet het ‘n beroep op boere gedoen om sodra die kans hom voordoen of self te stem of iemand aanstel om namens hom/haar te stem vir die aanbod. “25% plus een is genoeg om dié transaksie te stop.”
8 Desember 2010