
Twee bale fynwol van mnre. BP en Ghini Greyling van Langfontein Boerdery, Wakkerstroom, het 'n nuwe SA rekordprys van R172,70/kg behaal op die weeklikse wolveiling in Port Elizabeth. Die twee bale was 'n BNKS-lot van 17,2 mikron. Die koper is Segard Masurel.
'n Verheugde Greyling, wat saam met sy seun Ghini die veiling bygewoon het, sê die lyn wat teen R172,70/kg vekoop is, beloop R238,34/kg vir skoonwol. Die skoonopbrengs was 72,46%.
Die gemiddelde prys vir die Greylings se skeersel van hulle Maart-maand lammerooie, wat bestaan uit 71 bale, was R131,40/kg vir vetwol en beloop R203,09/kg vir skoonwol, Lox ingesluit.
Drie dekades se seleksie en telingGreyling sê die gemiddeld van die hele skeersel was 17,5 mikron en dit is 30 jaar se noukeurige seleksie en teling wat dié prestasie teweeg gebring het, plus die visie om ‘n groot en sterk fynwolskaap te teel. “Dit is oor die laaste ses jaar bykans vervolmaak met die twee ramme Barrier en Google wat by mnre. Willem van Aardt en sy seun Acton van Cookhouse se Fairworld Fynwol Merino-stoetery gekoop is.
“Ek en my seun Ghini lewer 71 000kg wol per jaar, waarvan 65 000 kg suiwer Merinowol is en alles afkomstig van eie aanteel.”
Die Greylings is baie dankbaar teenoor Daron van Greunen van Segard Masurel wat die lot teen hierdie rekordprys gekoop het as gevolg van spontane kompetisie op die beurs. Hulle sê hulle is net so dankbaar teenoor Modiano, Standard Wool en New England Wool wat meegeding het om dié twee bale te bekom.
BP sê as die wol hierdie week verkoop sou word, sou die rekord nóg groter gewees het!
* Soet syfer: Op die Greylings se veilingsverslag word die verkoopswaarde van dié twee rekordprys-bale as R43 434,05 aangegee. Nie sleg vir twee bale wol nie!
Fotobyskrif: Van links is mnre Ghini Greyling, Daron van Greunen, wolkoper van Segard Masurel, BP Greyling en Johan Louw, bemarkingsbestuurder: Wol, OVK Groep. Foto verskaf