
Meat & Livestock Australia (MLA) sê 3D-druktegnologie vir rooivleisprodukte kan die nuwe groot ontwikkeling vir waardetoevoeging in die lewendehawebedryf wees.
Die organisasie het deur middel van ’n navorsingsprojek die moontlike markaanvaarding en aanbodwaarde van 3D-gedrukte voedsel met vleis as ’n bestanddeel ondersoek. Hulle meen dit verteenwoordig ’n opwindende geleentheid om waarde tot byvoorbeeld vleis-byprodukte en snitte van laer gehalte te voeg deur ’n “vleis-ink” te ontwikkel.
Die betrokke tegnolgie druk voedsel laag vir laag deur middel van ’n proses wat as toevoeging-vervaardiging (additive manufacturing) bekend staan. Verskeie bestanddele kan gemeng, neergelê en gaargemaak word, wat dit maklik maak om vining met koskombinasies te eksperimenteer.
Volgens mnr. Sean Starling, MLA se algemene bestuurder vir navorsingsontwikkeling en innovasieis 3D-kos ’n ontluikende, omskeppende tegnologieplatform wat werklik tot waardetoevoeging vir die rooivleisbedryf kan lei. Hy sê verbruikers sien rooivleis as ’n onoortreflike bron van yster en sink, vitamien B12 en omega-3.
MLA is tans besig om die reëlings rondom ’n konferensie oor 3D-druktegnologie in 2017 af te handel. Daar sal sprekers van regoor die wêreld wees, asook demonstrasies van 3D-voedseltegnologie. ’n Aansit-ete van slegs 3D-gedrukte voedsel sal ook aan deelnemers voorgesit word.