Die brand wat op Saterdag 28 Januarie 2012 in die Slanghoekvallei in die Wes-Kaap ontstaan het, is onder beheer hoewel sterk winde voortwoed.
Die brand het na Limietberg en Bainskloof uitgebrei, maar dit is Woensdagnag 1 Februarie 2012 onder beheer gebring.
Mnr. Danie Wilds, brandweerhoof by die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit, sê die brand het weens sterk wind op Donderdag 2 Februarie 2012 weer opgevlam.
“Die lugmag het, soos vroeër die week die geval was, ons weer bygestaan en ons kon die brand gister (Donderdag) laat weer onder beheer kry,” vertel Wilds. Hy sê stormsterk suidoostewind is vir Vrydag 3 Februarie 2012 voorspel en dit is ’n bron van kommer.
Skade
Volgens Wilds het die brand verskeie plase bedreig, maar geen groot skade is op landbougrond aangerig nie. Die meeste landbouskade het op Sondag 29 Januarie 2012 in Slanghoekvallei voorgekom waar wingerde gebrand het.
Wilds sê die brand het Donderdag wel verskeie wildsplase en reservate bedreig. Die Elandsberg-wildsplaas, Kranskop-weermagbasis en Bontebok Ridge-wildreservaat is onder meer bedreig. Geen skade is egter aangemeld nie.
“Die brand het wel normale boerdery-aktiwiteite in al die gebiede waar dit voorgekom het, ontwrig. Telefoonpale en heinings het afgebrand. Boere en werkers moes hul normale dagtake agterlaat en die brand help beveg,” vertel Wilds.
3 Februarie 2012