
’n Myngroep het ingespring en gehelp om ’n brand wat van Donderdag 4 Oktober 2012 tot Sondag 7 Oktober in die Noord-Kaap gewoed het. Die brand het naby Kathu ontstaan en is naby die Lohatlha-weermagbasis onder beheer gebring.
Van die boere in die distrik het aan Volksblad vertel dat hulle Donderdagnag slegs twee uur lank geslaap het. Die brand word as een van die grootstes in dekades in dié streek beskryf. Kumba Iron Ore, die eienaar van die Sishen-ysterertsmyn by Kathu, het werkers en vragmotors gestuur om die brand te help blus.
Duisende hektare
Mnr. Danie Joubert, voorsitter van die brandbestrydingseenheid, sê minstens 35 000 ha het afgebrand. Teen Sondagmiddag is die brand aan die oostekant van die basis onder beheer gebring, maar dit het weer aan die westekant begin opvlam. Sowat 75% van die Billy Duvenhage-wildreservaat het in die slag gebly.
Mnr. Christo Kruger, wat op die plaas Byron naby Kuruman boer, sê feitlik sy hele plaas het afgebrand. “Dis ontsettend. My huis staan darem nog,” het hy bewoë aan die koerant gesê. Hy boer met skape en beeste, en is nog nie seker hoeveel vee hy verloor het nie.
Die boere het hul dank teenoor Kumba Iron Ore uitgespreek vir sy hulp.
Bron: Volksblad