Die Parlement het ‘n mosie van die Demokratiese Alliansie (DA) aanvaar dat die Vrystaatse regering die gebiede wat die afgelope weke onder erge veldbrande deurgeloop het as rampgebiede verklaar word.
Mnr. Darryl Worth, DA-lid van die nasionale raad van provinsies, sê die proses moet nou sy loop binne die provinsiale Regering neem.
“Die mosie is Dinsdag (14 September) aanvaar, en soos ek verstaan gaan dit nou na die provinsiale departement van landbou, bosbou en visserye,” verduidelik Worth.
Mnr. Malcolm Procter, adjunk-direkteur van bos- en veldbrandtoesig by die departement, sê daar is ook al ‘n versoek gerig vir ramphulp aan die nasionale Regering.
Groot individuele skade
Procter sê die ramphulp word benodig aangesien die brande groot skade in spesifieke areas aangerig het. “In die Fouriesburg distrik het 65 000 ha afgebrand, en in die Maluti-a-Phofung-munisipale distrik het 35 000 ha deurgeloop. Dit is groot stukke grond vir spesifieke areas en dis hoekom hulp nodig is.”
Intussen sê Procter nog brande het sedert Woensdag (15 September) in die provinsie voorgekom. “Sowat 800 ha het in die Welkom-gebied afgebrand, terwyl brande weer in die omgewings van Rosendal, Kroonstad, Ficksburg en Fouriesburg ontstaan het. As ons nie binne die volgende twee weke goeie reëns kry nie voorsien ek groot probleme.”
Volgens Procter het reeds sowat 260 000 ha se grond en weiveld vanjaar in die Vrystaat afgebrand, met meer as 150 000 ha daarvan die laaste maand. “Dit is reeds 56 000 ha bo die gemiddeld vir die jaar,” vertel hy.
17 September 2010